Kom en studeer Rekenaarwetenskap in Stellenbosch!
- Hoekom Rekenaarwetenskap?
- Hoekom Stellenbosch?
- Waaroor gaan die kursus?
- Wat is die voorvereistes vir toelating tot Rekenaarwetekenskap?
- Wat kan ek met Rekenaarwetenskap doen na universiteit?
- Hoe kies ek ‘n graad / program wat my pas?
- Hoe doen ek aansoek?
- Is Rekenaarwetenskap dieselfde as Rekenaarvaardigheid?
- Moet ek Rekenaarewetenskap of Elektroniese Ingenieurswese studeer?
- Waar kan ek nog inligting kry?
Hoekom Rekenaarwetenskap?
Die “Association of Computing Machinery” is ‘n internasionale organisasie vir rekenaarwetenskaplikes. Die ACM het die volgende lys van top-10 redes om rekenaarwetenskap te studeer, ontwikkel. Ons haal direk van hul webwerf aan:
- Rekenaars speel ‘n rol in alles wat ons doen!
- Kundigheid in rekenaarwerk stel jou in staat om komplekse en uitdagende probleme op te los.
- Rekenaars stel jou in staat om ‘n positiewe verskil in die wereld te maak.
- Rekenaarwerk bied ‘n wye verskydenheid winsgewende loopbane.
- Beroepe in rekenaars is hier om te bly, ongeag waar in die wereld jy jou bevind.
- Kundigheid in rekenaars kan jou help, selfs al behels jou primêre loopbaan iets heeltemal anders.
- Rekenaars bied wonderlike geleenthede vir ware kreatiwiteit en innoverendheid.
- Rekenaars bied geleentheid vir beide spanwerk én individuele werk.
- Rekenaars is ‘n noodsaaklike deel van goedafgeronde akademiese voorbereiding.
- Toekomstige geleenthede in rekenaars het geen perke.
Ons moet erken dat ons bevooroordeeld is, maar ons kan net een “feit” byvoeg: Rekenaarwetenskap is PRET!
Lees ook ons informatiewe pamflet vir voornemende studente.
Hoekom Stellenbosch?
Twee redes.
-
Akademiese uitnemendheid: Universiteit Stellenbosch is een van Suid-Afrika se leidende tersiêre instellings, gebaseer op navorsingsuitsette, studente se deurvoerkoerse, en gegradeerde wetenskaplikes, en dit word internasionaal herken as ‘n akademiese instelling van uitnemendheid. Dit spog met die hoogste geweegde navorsingsuitsette per voltydse akademiese personeel van alle Suid-Afrikaanse universiteite, en die tweede hoogste aantal wetenskaplikes in Suid-Afrika wat deur die Nasionale Navorsingstigting gegradeer is. Dit het ook die hoogste deurvoerkoers in die land.
-
Gemeenskap: Om in Stellenbosch te studeer is meer as net ‘n opvoeding; dit is ook ‘n lewenstyl. Die kampus is ten volle geïntegreer met die mooi en historiese dorp. Wonderlike kos en wyn, naweekmarkte, verstommende natuurskoon, ‘n polsaanjaende musiek- en kultuurlewe, en ‘n wye verskeidenheid avontuuraktiwiteite dra alles by tot ‘n gebalanseerde ondervinding as ‘n Matie.
Waaroor gaan die kursus?
Rekenaarwetenskap kyk na rekenaarstelsels; beide die hardeware en die sagteware. Maar dit beteken nie dat ons net heeldag lank programme skryf en rekenaars bou nie. Ons volg ‘n wetenskaplike benadering tot die onderwerp, en beklemtoon die beginsels, pleks van elke klein detail.
-
In die eerste jaar is die fokus op om te leer programmeer. Op die oomblik gebruik ons die Java programmeertaal in die kursus, maar ons glo nie dat die taal ‘n groot verskil maak nie: ons verwag van ons studente om verskeie programmeertale te leer teen die tyd dat hulle gradueer. Aan die ander kant is Java ‘n baie belangrike taal. Dit is eenvoudig genoeg om in een jaar te bemeester en vorm ‘n uitstekende basis om ander tale soos C++ and C aan te leer (wat wel in latere kursusse gebruik word).
-
Die tweede jaar handel grotendeels oor data strukture en algoritmes. ‘n Deeglike kennis van hierdie belangrike onderwerp is waarskynlik die grootste verskil tussen ‘n blote beginner en ‘n ekspert rekenaarwetenskaplike. In die tweede helfte van die tweede jaar val die fokus op rekenaarargitektuur en lae-vlak programmering.
-
Die derde jaar bestaan uit vier kernmodules: gelyklopende programmering, databasisse en web-bebaseerde ontwikkeling, rekenaarnetwerke, en sagteware-ingenieurswese. Daar is ook opsionale modules oor Masjienleer (hoe kan rekenaars leer uit data wat hulle in die regte wêreld teëkom?) en Rekenaarvisie (wat ook grafika insluit — natuurlik ‘n kritiese vaardigheid ook vir rekenaarspeletjies). Aan die einde van die jaar is ons studente gereed om vrae soos die volgende te antwoord:
- How werk ‘n bedryfstelsel soos Windows/Linux aan die binnekant, en hoe skep mens soortgelyke stelsels?
- Hoe gebruik ons groot rekenaarbanke (of ‘n groot getal verwerkers) om komplekse berekenings effektief uit te voer?
- Hoe ontwerk mens groot databasisse om oor die internet te gebruik?
- Hoe kommunikeer rekenaars oor WiFi en/of oor die Internet?
- Hoe ontwikkel ons GROOT sagteware stelsels op ‘n doeltreffende en betroubare manier?
Saam met al die teorie werk ons studente ook hard aan praktiese vaardighede. By voorbeeld, in voriges weergawes van hierdie kursusse moes studente ‘n Internet kletsprogram en ‘n verkeersimulator ontwikkel. Hierdie voorbeeld is al ‘n bietjie oud: kyk gerus op die kursus bladsye om die nuutste projekte te sien.
Sommige universiteite se kursusprogramme word deur internationale organisasies gesertifiseer om te verseker dat hulle aan die hoogste standaarde voldoen. In Stellenbosch is ons baie trots op on onderrig en ons lang tradisie van Rekenaarwetenskap. Ons volg die aanbevelings van die internasionale ACM leerplan, maar ons glo nie dat akkreditasie op hierdie oomblik ‘n sinvolle manier is om ons studente se klasgeld te spandeer nie. In die industrie is akkreditasie nie baie belangrik nie. Soos alle Suid-Afrikaanse universiteite word ons derde jaar en nagraadse modules ekstern deur kenners by ander universiteite gemodereer en omdat ons ook elektriese en elektroniese ingenieurs oplei, word die kursusse ook deur ECSA gemodereer.
Amptelik word amper al ons modules 50/50 in beide Afrikaans en Engels aangebied. (In sommige modules met baie studente is daar ‘n aparte Afrikaanse en Engelse stroom.) Ons probeer egter pragmaties te werk gaan. Ons is baie lief vir Afrikaans, maar ons moet ook ons Engels-sprekende internasionale studente tegemoetkom. Taalkwessies was nog nooit ‘n probleem by Rekenaarwetenskap nie en ons glo nie dat taal ooit in die pad van onderrig moet staan nie.
Wat is die voorvereistes vir toelating tot Rekenaarwetekenskap?
Baie belangrik: Jy het geen spesiale agtergrond nodig in programmeering of rekenaarverwante skoolvakke om Rekenaarwetenskap te studeer nie.
Die algemene vereiste vir toelating tot B.Sc. sluit in:
- ‘n punt van ten minste 6 vir Wiskunde,
- ‘n punt van ten minste 4 vir jou eerste taal, en
- ‘n punt van ten minste 4 for Fisika/Chemie as jy vir daardie modules gaan
inskryf,
of ten minste 4 vir ten minste een ander goedgekeurde module.
Let egter op dat die toelatingsvereistes van jaar tot jaar kan verander en dit is noodsaaklik om die nuutste inligting na te gaan op die Maties webwerf. (Volg die kitsskakels vir toelatingsvereistes onderaan die bladsy.)
Wat kan ek met Rekenaarwetenskap doen na universiteit?
Ons kry elke week ‘n vloedgolf versoeke vir gekwalifiseerde studente. Aan die begin van die 2000’s was daar ‘n effense afduiking in die werksmark, maar dit het heeltemal herstel en internasionale kenners voorspel ‘n enorme tekort aan rekenaarwetenskaplikes in die volgende tien jaar. Dit geld ook vir Suid-Afrika en veral die Weskaap. En dit is natuurlik baie goeie nuus vir enigiemand met die regte kwalifikasies: daar is groot verskeidenheid poste om van te kies.
Sommige van ons studente begin hul loopbaan as programmeerders, maar dit duur nie lank voor hulle opskuif om sagteware te ontwerp en ingenieur nie. Afgesien van die baie plaaslike maatskappye wat ons studente in diens neem, is daar ook baie geleenthede oorsee. Suid-Afrikaanse rekenaarwetenskaplikes is baie gewild, dalk omdat hulle bekend is as harde werkers.
Daar is gewoonlik ‘n hoë omset in die sagtewareindustrie. Werkers skuif dikwels van een maatskappy na ‘n ander en word dus bloot gestel aan verskeie verskillende uitdagings en omgewings.
Hoe kies ek ‘n graad / program wat my pas?
Die gonswoord van die nuwe dekade is Rekenaarmatige denke (“Computational Thinking”). Dit beteken basies probleemoplossing, dikwels met behulp van rekenaars, en vorm die kern van Rekenaarwetenskap.
Rekenaarwetenskap kan met ‘n groot verskeidenheid van ander modules gekombineer word! Meeste van ons studente gaan werk in die sagteware- of inligtingstegnologie industrie, maar rekenaarwetenskap is ook ‘n ideale vak om te kombineer met die vakke van feitlik enige ander rigting. Om die waarheid te sê, dit is deesdae essensieël vir almal om te weet hoe om kode te skryf.
- Studente wat by die Universiteit van Stellenbosch kom studeer moet 'n graad kies. Byvoorbeeld: BSc, BCom
- Grade het verskeie variasies, wat programme genoem word. Byvoorbeeld: BSc Wiskundige Wetenskappe, BCom Besigheidsbestuur
- Sommige programme het ook variasies, wat strome (of fokus areas) genoem word. Byvoorbeeld: BSc Wiskundige Wetenskappe: Rekenaarwetenskap
Hier volg ‘n lys van die mees populêre kurrikulumkombinasies wat Rekenaarwetenskap as hoofvak insluit. Neem asseblief kennis dat hierdie kombinasies slegs voorbeelde is van hoe ‘n kurrikulum saamgestel kan word en dat nie alle kombinasies hier gelys word nie. Dit is dus baie belangrik om die Universiteit se jaarboek te raadpleeg; want die inligting in die jaarboek is bepalend.
BSc: Rekenaarwetenskap
Dit is die primêre opsie vir studente wat ‘n loopbaan in rekenaarmatige denke wil volg. Die graad is ‘n internasionale kwalifikasie wat jou in staat stel om by nasionale en internasionale maatskappye aansoek te doen vir werk. Hierdie program het vyf strome - hieronder skets ons die Algemene stroom; die ander strome is Datawetenskap, Rekenaarstelsels, Rekenaarwetenskap met Genetika, en Rekenaarwetenskap met Geografiese Inligtingstegnologie. Die Rekenaarwetenskap strome lei ook tot die Honneursprogram in Rekenaarwetenskap, en met die toepaslike kombinasie van keusevakke, tot ‘n Honneursprogram in Ekonomie, Toegepaste Wiskunde, Wiskunde, Genetika, of Operasionele Navorsing.
Inleidende
Rekenaarwetenskap I 114
Wiskunde 114
Waarskynlikheidsleer
en Statistiek Keusemodule 178
Wetenskap
in Konteks 144
Inleidende
Rekenaarwetenskap 2 144
Wiskunde Verpligte Keuse Keusemodule
Die Verpligte Keuse is tussen Toegepaste Wiskunde 144, Datawetenskap 141, and Wiskunde 154. Eerstejaar keusemodules, sluit in: Biologie, Chemie, Ekonomie, Algemene Taalwetenskap, Geoinformatika, Musiektegnologie, and Fisika.
Datastrukture
en Algoritmes Keusemodule Keusemodule Keusemodule 244
Rekenaarargitektuur Keusemodule Keusemodule Keusemodule
Keusemodules sluit in: Biowiskunde, Chemie, Ekonomie, Algemene Taalwetenskap, Wiskundige Statistiek, Musiektegnologie, Operasionele Navorsing, en Fisika. Die modulekeuses is meer ingewikkeld as in die eerste jaar en dit is noodsaaklik om die Natuurwetenskappe jaarboek te raadpleeg.
Gelyklopendheid 334
Databasisse en
Websentriese Programmering Keusemodule Keusemodule 344
Programmatuur-
ontwerp 354
Rekenaar-
netwerke Keusemodule Keusemodule
Derdejaar keusemodules sluit die volgende in Toegepaste Wiskunde, Biowiskunde, Chemie, Ekonomie, Algemene Taalwetenskap, Wiskundige Statistiek, Wiskunde, Musiektegnologie, Operasionele Navorsing, en Fisika. Daar is ook addisionele Rekenaarwetenskapmodules om van te kies.
BCom Wiskundige Wetenskappe: Rekenaarwetenskap
Nog ‘n gewilde keuse vir studente is ‘n graad in die Ekonomie en Bestuurswetenskappe fakulteit.
Inleidende
Rekenaarwetenskap 1 114
Wiskunde 112
Aktuariële Wetenskap 114
Ekonomie 114
Finansiële Rekeningkunde 144
Inleidende
Rekenaarwetenskap 2 144
Wiskunde 144
Waarskynlikheidsleer
en Statistiek 144
Ekonomie 144
Finansiële Rekeningkunde
Data strukture
en Algoritmes 214
Wiskunde 214
Besigheids-
bestuur 214
Wiskundige
Statistiek Keusemodule 244
Rekenaar-
argitektuur 244
Wiskunde 244
Besigheids-
bestuur 245 & 246
Wiskundige
Statistiek Keusemodule
Tweedejaar keusemodules wat aanbeveel word, sluit in Aktuariële Wetenskap, Ekonomie, Finansiële Rekeningkunde, Finansiële Risikobestuur, Beleggingsbestuur, Logistieke Bestuur, Bemarkingsbestuur, en Operasionele Navorsing.
Gelyklopendheid 334
Databasisse en
Websentriese Programmering 315
Masjienleer Keusemodule 344
Programmatuur-
ontwerp 354
Rekenaar-
netwerke 364
Rekenaar-
visie Keusemodule
Derdejaar keusemodules wat aanbeveel word, sluit in Ekonomie, Finansiële Risikobestuur, Wiskundige Statistiek, Wiskunde, en Operasionele Navorsing.
Ingenieursprogramme
Daar is verskeie programme in die Fakulteit van Ingenieurswese (bv, BIng Elektries en Elektronies, BIng and BIng Megatronies) wat aspekte van Rekenaarwetenskap insluit. Ingenieurstudente volg ‘n beperkte aantal Rekenaarwetenskap modules, en is hoog op aanvraag in die sagteware- en inligtingstegnologie sektor, veral by maatskappye wat in rekenaarstelsels, beheerstelsels, en seinverwerkingstelsels spesialiseer.
Ander programme
Daar is verskeie ander programme wat studente toelaat om vir Rekenaarwetenskap modules te registreer. In sommige gevalle laat dit studente toe om net tot op eerstejaarsvlak vir Rekenaarwetenskap modules te registreer, maar die volgende programme laat studente toe om vir die volle Rekenaarwetenskap kurrikulum te registreer, tot op derdejaarsvlak.
- BSc Chemie: Chemie en polimeerwetnskap
- BSc Fisikia: Laserfisika (fisiese), Kernfisika, Radiation and Health Physics
- BSc Fisika: Teoretiese fisika
- BSc Geoinformatika
- Alle strome in die BSc Wiskundige Wetenskappe, behalwe die Bioinformatika stroom
- BCom Ekonomiese Wetenskappe
- BCom Wiskundige Wetenskappe: Aglemeen
- BCom Wiskundige Wetenskappe: Wiskundige Statistiek
Nie alle programme wat studente toelaat om vir eerstejaar rekenaarwetenskap modules te registreer laat studente toe om ook vir tweedejaar en derdejaar modules te registreer nie. Dit is baie belangrik om die Universiteit se jaarboeke deeglik te lees.
Hoe doen ek aansoek?
Jy kan oor die internet aansoek doen en ook ander belangrike inligting vind op
www.maties.com
.
Is Rekenaarwetenskap dieselfde as Rekenaarvaardigheid?
O nee, beslis nie. Dit is belangrik vir die universiteit dat al ons wetenskap studente vaardig is met die gebruik van rekenaars. Rekenaarvaardigheid is ‘n module wat studente leer om basiese rekenaar nutsprogramme te gebruik (soos ‘n woordverwerker en sigblad); dit sluit ook meer gevorder programme in (soos wiskundige modelleerders en statistiese analise). Studente wat reeds oor hierdie vaardighede beskik, kan ‘n spesiale toets skryf om vrystelling te kry van die module.
Moet ek Rekenaarewetenskap of Elektroniese Ingenieurswese studeer?
Hierdie vraag duik dikwels op. Rekenaarwetenskap en Elektroniese Ingenieurswese is beide uitstekende keuses wat jou sal voorberei op ‘n loopbaan in die sagteware industrie. Studente wat in hierdie strome gradueer eindig dikwels in dieselfde tipe poste op, en daar is ‘n groot aanvraag vir albei. Die sleutelverskil is dat Elektroniese Ingenieurswese op beide hardeware (met ander woorde die ontwerp van rekenaars en ander elektroniese komponente) en sagteware (veral vir spesiale ingenieurs toepassings). Rekenaarwetenskap, aan die ander kant, het ‘n meer gespesialiseerde en dieper fokus op sagteware (algoritmes en die ontwikkeling van sagteware). Studente in Elektroniese Ingenieurswese neem sommige maar nie al die modules van Rekenaarwetenskap nie. Albei grade het ‘n sterk wiskundige inslag. As jy sukkel om te kies, moedig ons jou sterk aan om met iemand om beide Rekenaarwetenskap en Elektroniese Ingenieurswese te kom gesels om hierdie belangrike besluit te maak: jy is altyd welkom.
Waar kan ek nog inligting kry?
‘n Goeie beginpunt is om op hierdie webwerf rond te kyk. Vir enige spesifieke vrae, stuur gerus ‘n epos aan head@cs.sun.ac.za.